Deon en die Feetjie
© J. Francois Barnard – 2 April 2026
In 1927 het Michael Miller en Sam Cohen die OK Bazaars-afdelingswinkels begin. Hulle was bekend vir ‘n wye verskeidenheid van goedere, en vir hulle slagspreuk van “Alles vir die huis en meer!” Kort voor lank was dit een van Suid Afrika se mees bekende landmerke in al die groot stede – ook in Pretoria.
Dit was kort voor Kersfees in 1966. Die Blignaut-gesin het besluit om Kersinkopies in Pretoria te gaan doen. Die opwinding was groot, en die middestad gepak met mense. Hulle het die motor doer bo in ‘n parkade gelos en gestap na die hoek van Kerk- en Van der Waltstraat.
Binne die winkel het Deon die raserige roltrap met agterdog bejeen. Die speelgoedafdeling was op die tweede vloer, en, kom wat wil, hulle sou boontoe moes ry. Die trap het gekreun en raas met die baie mense op, en toe hulle amper bo kom, sien hy haar - ‘n feetjie met ‘n kort rokkie.
Dis nou al baie jare later, en waar hy vandag in West Hollywood, Kalifornië woon, kyk hy na ‘n foto van ‘n houtroltrap wat iemand vir hom gestuur het. Die herrinneringe van 1966 spoel weer terug en hy vertel:
“Bo waar die die trap in vloer verdwyn het, was daar ‘n baie, baie mooi meisie. Sy het almal vriendelik en met oorgawe gegroet. En ek, ‘n sendingkerkkind, was tot in my siel geskok! ‘n Mens kon dan haar naam én haar van sien!”
Contact me





