Kortpad
© J. Francois Barnard – 31 Maart 2026
Vandag se datum is 31 Maart 2026. Dit is nou presies twintig jaar sedert my pa die kortpad gevat het. Nie die langpad soos Marlene se ma nie. Tannie Emily is hierdie week huis toe op die ouderdom van 102. ‘n Geseënde leeftyd; ‘n rype ouderdom; ‘n volsirkel wat sy met vrede en tevredenheid afgesluit het. Sy het gewag en gewag totdat die engele haar kom haal het.
My pa was 75 jaar oud toe hy opeens besluit het om ‘n einde aan sy lewe te maak. Ons het vroeër daardie week nog gepraat, en ek het hom met sy internetbanksake gehelp. Daardie Vrydag kry ek die oproep wat my tot in my diepste wese geskud het. Hy het homself geskiet en ‘n kortpad gevat. Hy wou nie wag vir engele nie.
In die laaste twintig jaar het ek hierdie kortpad baie oordink. Ek oordeel nie sy besluit nie. Ek dink nie dit was die regte besluit nie, maar daar waar hy in sy plaasstewels gestaan het, was dit vir hom op daardie oomblik die regte besluit.
En nee, ek kwel my nie oor sy saligheid nie. God gee ons ‘n vrye wil, en God respekteer Sy eie keuse van vrye wil soveel dat Hy nie my pa op daardie oomblik gekeer het nie. Hy het hom toegelaat om die keuse te maak, en hom nog steeds verwelkom in sy nuwe, ewige woning. ‘n Woning met baie vreugde en vrede.
Vandag kan ons lank bespiegel wat my pa tot daardie besluit gebring het, maar dit maak nou nie meer saak nie. Ons het deur genade die trauma en verlies verwerk, en aangegaan met ons lewens. Ons het baie swaargekry vir baie lank, maar daar was soveel genade dat ons weer ons eie paaie kon hervat.
Met die hervat van ons eie paaie lê daar ‘n sleutel. Hoe doen ons dit? Hoe kyk ons na ons eie gesinne wanneer daar druk en onsekerheid kom? Gaan ons ‘n kortpad vat of gaan ons alles deurleef totdat daar ‘n deurbraak kom?
Twintig jaar gelede kon my pa nie ‘n weg uit sien nie. Dit was net donker om hom en in hom. Hy moes ‘n einde aan sy innerlike lyding maak. Die gevolg daarvan was trauma vir sy kinders en almal wat vir hom lief was.
Ek het hom vergewe. Vir sy kortpad, en vir alles wat ons moes deurmaak. En daarin lê my vryheid, my genesing, my vrede. Vandag dink ek terug aan hom met deernis. Hy sou nou 95 gewees het. Hy sou sy kleinkinders en agterkleinkinders kon beleef het. En dis jammer, maar dis ook reg so.
Want daar is vrede vir ons almal op ons langpad.
Aan Dr Isak Burger en sy gesin, Marius en Marlene Freislich en hulle gesin: My diepe medelye met die vertrek van julle ma, ouma, en grootouma, Tannie Emily. Hoe wonderlik is dit om so 'n lewe te kan vier! In my hart deel ek beide die hartseer en vreugde. Mooi bly!
Contact me





